Die Afrikaanse sanger Brendan Peyper het Woensdag ’n video van sy ramparty op sosiale media gedeel. Dit kom nadat hy vroeër vanjaar aan Marise van der Westhuysen verloof geraak het.
Peyper het uiteindelik liefde gevind nadat sy televisiesoektog na ’n lewensmaat nie uitgewerk het nie. Peyper het in 2024 aan die derde seisoen van kykNET se maatsoekreeks Op My Eish! deelgeneem. Sestien vroue het aanvanklik aan die avontuur deelgeneem, met sanger Jo Black as Peyper se wingman. Hy het uiteindelik Janae as sy keuse aangewys, maar die verhouding het nie gehou nie.
Sy liefdesverhaal het later buite die kameras ’n nuwe wending geneem toe hy en Marise hul verhouding bekend gemaak het. Die paartjie het op 15 April 2026 verloof geraak. Peyper het die verlowing enkele dae later op sosiale media aangekondig.
Die paartjie het reeds op 16 Augustus verlowingsfoto’s deur Lisa West Photography gedeel, met die boodskap van Marise: “Sien uit vir ’n ewigheid saam met jou.” Marise het op 19 Oktober ook ’n spesiale dag saam met die vroue in haar lewe op sosiale media gedeel. “Kon nie vir ’n beter dag vra nie. My hart loop oor van dankbaarheid en liefde vir al hierdie spesiale vrouens in my lewe,” het sy geskryf en verskeie mense en ondernemings bedank wat by die geleentheid betrokke was.