MPUMALANGA. – Imtiyaaz en Quaeed Bucks, twee broers, is doodgeskiet en hul pa is kritiek beseer nadat drie gewapende verdagtes Vrydagoggend (6 November) na bewering by ’n huis in Trichardt in Mpumalanga ingebreek en op die inwoners losgebrand het.
Die voorval het omstreeks 03:00 plaasgevind toe die drie verdagtes na bewering ‘n venster met geweld oopforseer het om toegang tot die woning te verkry. Die gesin het wakker geword en die verdagtes in die huis aangetref. Een van die verdagtes het na bewering op die inwoners begin skiet.
Volgens sers. Thulisile Magagula, polisiewoordvoerder, is ’n 19-jarige seun op die toneel dood verklaar. Sy 22-jarige broer is saam met hul 52-jarige pa na ’n mediese fasiliteit geneem, waar die 22-jarige met aankoms dood verklaar is. Die pa is steeds in ’n kritieke toestand. Twee ander kinders wat saam met hulle ma tydens die aanval in die huis was, het fisies ongedeerd daarvan afgekom. Die verdagtes het sonder enige waardevolle items van die toneel gevlug.
Die polisie het sake van dubbele moord, poging tot moord en poging tot huisroof geopen. ’n Soektog na die drie verdagtes is van stapel gestuur. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting wat tot die verdagtes se inhegtenisneming kan lei, om die speurders by 082 497 4729 te bel.
Laerskool Trichardt en Kleuterskool het hulde gebring aan hul twee voormalige leerlinge.

Hoërskool Oosterland het ook hulde aan Qaeed gebring en hom as ‘n oud-leerder beskryf. Die skool het sy meegevoel teenoor sy familie, vriende en almal wat hom liefgehad het, uitgespreek en gesê hy sal in die Oosie-gemeenskap se herinneringe voortleef.
