GAUTENG. – Frans van den Bergh, beter bekend as Fransie, van Springs, is op 4 November 2026 oorlede nadat hy ernstig siek geword het weens komplikasies ná ’n sinusinfeksie. Hy is in ’n kritieke toestand in die Glenwood-hospitaal in Benoni behandel nadat aanvanklike toetse op breinvliesontsteking gedui het.
Volgens sy ma, Jeanine van den Bergh, het hy onder meer twee epileptiese aanvalle gehad. ’n Neurochirurg het uiteindelik besluit om hom met antibiotika te behandel eerder as om chirurgie toe te pas. Fransie se familie het die verloop van sy siekte en sy stryd om sy lewe op die Facebook-blad Bid vir Frans met die publiek gedeel.
Fransie se afsterwe het ’n besonder aangrypende wending geneem nadat sy ouers besluit het om sy organe te skenk. Die besluit beteken dat ses ander kinders die moontlikheid van ’n nuwe kans op lewe kan kry.
Sy ma, Jeanine van der Berg, het op die Facebook-blad Bid vir Frans ’n emosionele huldeblyk aan haar seun geskryf waarin sy vertel van die besluit en die betekenis daarvan vir hul gesin. Volgens Jeanine was Fransie iemand met ’n besondere liefde vir ander mense en ’n begeerte om ’n verskil in ander se lewens te maak. Hoewel die besluit om sy organe te skenk vir die gesin uiters pynlik is, vind hulle troos daarin dat sy lewe op hierdie manier ’n verskil aan ses ander kinders kan maak.
“Ses kinders. Ses nuwe kanse op lewe. Een ongelooflike dapper seuntjie,” het sy geskryf. Sy het haar seun as haar held beskryf en gesê sy is ongelooflik trots op hom. “Jy wou nog altyd ’n verskil in hierdie wêreld maak. En kyk net, my kind… jy gaan ses ander kinders ’n kans op ’n toekoms gee.”
Fransie se verhaal is een van verlies, maar ook van hoop en die moontlikheid dat ander gesinne danksy sy ouers se besluit ’n nuwe toekoms kan hê.
Om na die video-opname in die hospitaal te kyk, druk hier.
FRANSIE, MAMMA SE HELD! Fransie het nog altyd ’n ongelooflike groot liefde vir die mense om hom gehad. Sy hart was vol omgee, liefde en ’n begeerte om ’n verskil in ander se lewens te maak.
En vandag kry ons kosbare seun die geleentheid om presies dit te doen.
Ons het as ouers die besluit geneem om Fransie se organe te skenk, sodat ses ander kinders die kans op lewe kan kry.
Al breek ons harte in ’n miljoen stukkies, vind ons troos in die wete dat ons seun se liefde vir ander selfs ná sy heengaan sal voortleef.
My Fransie, jy wou nog altyd ’n verskil in hierdie wêreld maak. En kyk net, my kind… jy gaan ses ander kinders ’n kans op ’n toekoms gee.
Jy is en sal altyd mamma se held wees.
Ses kinders. Ses nuwe kanse op lewe. Een ongelooflike dapper seuntjie.
Ek is so ongelooflik trots op jou, my Fransie.
Mamma se held. Vir altyd my seun. Vir altyd in my hart.