NOORDWES. – Twee verdagtes is op die M35 doodgeskiet en drie ander het gevlug nadat ’n gesamentlike polisie-en-veiligheidsoperasie ’n beweerde plan om ’n valkluis (drop safe) in Moretele in Noordwes op te blaas in die wiele gery het.
Volgens Vision Tactical en GAC Risk Solutions het lede inligting ontvang oor ’n moontlike aanval op ’n kontantkluis in die Moretele-omgewing. ’n Wit Toyota Hilux-dubbelkajuit wat na bewering deur die verdagtes gebruik is, is op die M35 opgespoor. Toe lede die voertuig probeer voorkeer, het die insittendes na bewering op hulle losgebrand. ’n Skietery het gevolg en die bakkie het langs die pad in die bosse beland. Twee verdagtes is tydens die skietery noodlottig gewond, terwyl drie ander daarin geslaag het om te vlug. ’n AK-47-aanvalsgeweer, ’n DM4-geweer, verskeie magasynhouers, plofstof, ’n battery met detonasiekoord en vals nommerplate is gevind. Die wit Toyota Hilux is ook in beslag geneem.
Die ondersoek duur voort om vas te stel of die verdagtes moontlik by ander soortgelyke misdade betrokke was.
Bronne: GAC Risk Solutions, Vision Tactical, Arrive Alive, South Africa Today