GAUTENG. – Nege buitelandse burgers is in hegtenis geneem nadat hulle na bewering voorberei het om Suid-Afrika te verlaat om aan die Rusland-Oekraïne-oorlog deel te neem. Die verdagtes, tussen 20 en 26 jaar oud, is Maandagaand tydens ’n gesamentlike operasie by OR Tambo Internasionale Lughawe en ’n hotel in Bruma aangekeer.
Kol. Katlego Mogale, Valke-woordvoerder, sê die inhegtenisnemings volg ná ’n ondersoek deur onder meer Interpol, die Valke se eenhede vir misdade teen die staat en ernstige georganiseerde misdaad, polisiebeamptes van misdaadintelligensie en ander plaaslike en internasionale wetstoepassingsagentskappe. Die verdagtes sal na verwagting aangekla word van die oortreding van die Wet op die Regulering van Buitelandse Militêre Bystand, Wet 15 van 1998.
Hulle sal binnekort in die Kempton Park-landdroshof verskyn.