Brekende Nuus
Nuus

Lewenslange tronkstraf vir man wat vrou probeer vermoor

Foto: Ter illustrasie

WES-KAAP. – Die Clanwilliam-streekhof het Niklaas Meyer tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan poging tot moord op sy vrou, Louisa Meyer. Hy het haar herhaaldelik op 11 Mei 2025 by hul huis op De Lille-plaas in Clanwilliam gesteek.

Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê die hof het bevind hy het uit jaloesie en woede met direkte opset opgetree. Meyer het gesê hy was kwaad omdat hy Louisa van ontrouheid verdink het en sy haar selfoon vir hom weggesteek het en boonop nie vir hom geluister het nie.

Hul seun het geskree gehoor, ingehardloop en sy pa gekry waar hy sy ma, wat op die vloer gelê het, met ‘n mes gesteek het. Sy pa het na hom toe gedraai en hy het weggehardloop om ‘n voorwerp te kry om die aanval te probeer stop. Sy suster het haar pa weggestoot, en hy het die mes laat val. Louisa het lewensgevaarlike steekwonde opgedoen wat 60 steke vereis het. Louisa is voor die verhoor aan natuurlike oorsake oorlede.

Die kinders, Owen Farmer en Estericia Meyer, die staat se sleutelgetuies, was aanvanklik onwillig om teen hul pa te getuig, maar het ingestem nadat streekhofaanklaer Mark Taylor hulle herinner het aan hul ma se wens, uitgespreek op 27 Januarie 2026, dat die vervolging moes voortgaan.

Meyer het beweer Louisa het hom aangeval en dat hy haar ontwapen het. Volgens die verdediging het hy uit noodweer opgetree. Die hof het sy weergawe verwerp en bevind dat Louisa hom nie aangeval het nie en dat die wonde aan sy arm self toegedien is. Meyer het vorige skuldigbevindings vir aanranding en die oortreding van beskermingsbevele gehad, met Louisa as klaagster in almal.

Die hof het hom ook ongeskik verklaar om ‘n vuurwapen te besit en ‘n deursoeking-en-beslagleggingsbevel uitgereik vir sy vuurwapenbevoegdheidsertifikate, lisensies, magtigings, permitte, vuurwapens en ammunisie.