Brekende Nuus
Nuus

2 mans lewenslank tronk toe vir moord op 43-jarige man

Foto: Facebook en SAPD

LIMPOPO. – Gareth Alexander Potgieter (38) en Wynand Carel Steyn (38) is Vrydag in die Polokwane-hooggeregshof tot lewenslank tronk toe gestuur vir die moord op Hendrik Stephanus Venter (43), wie se oorskot in 2022 langs ’n grondpad in die Northam-omgewing gevind is. Die slagoffer is vermoor, in stukke gesny en verbrand voordat sy oorskot langs die De Put-grondpad weggegooi is. Venter is op 20 Augustus 2021 as vermis aangemeld.

Menslike ribbes, werwels en die oorledene se ring is tydens die ondersoek teruggevind. ’n Wasbak waarin bevestigde DNS van Venter gevind is, asook ’n saag, byl en elektriese houtsaag, is destyds deur die polisie in beslag geneem.

Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê ‘n ondersoek is begin nadat Venter op 20 Augustus 2021 as vermis aangemeld is. Potgieter is in Bloemfontein in hegtenis geneem, terwyl Steyn reeds in aanhouding was in verband met ’n saak van koperdiefstal. Albei is skuldig bevind aan moord en regsverydeling. Hulle is elk tot lewenslange gevangenisstraf vir moord en ’n verdere vyf jaar vir verydeling van die gereg gevonnis. Die hof het gelas dat die vonnisse gelyktydig uitgedien word. 

Kapt. Piet du Plessis van die Northam-speurders het die ondersoek behartig en borgtog is deurgaans suksesvol teengestaan. Lt.genl. Jan Scheepers, provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het die skuldigbevindings en vonnisse verwelkom en Du Plessis vir sy deeglike ondersoek geprys.

Kapt. Piet du Plessis