MAHIKENG, NOORDWES – ’n Man (35) is tot effektief 16 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis nadat hy ’n 24-jarige vrou op pad huis toe van die werk met ’n mes gedreig, verkrag en van haar besittings beroof het.
Ditlhoriso Machoba is deur die hof vir seksuele misdrywe in die Molopo-streekhof skuldig bevind aan verkragting en roof met verswarende omstandighede.
Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het die vonnis Maandag 9 November 2026 verwelkom.
Die voorval het op 10 Mei 2021 plaasgevind toe die slagoffer ná werk huis toe gestap het. Machoba, wat destyds aan haar onbekend was, het haar met ’n mes gedreig en na ’n afgeleë gebied gesleep waar hy haar verkrag en daarna van haar besittings beroof het.
Hoewel Machoba die grootste deel van sy gesig bedek het, kon die vrou hom aan letsels op sy gesig herken.
Ná die aanval het sy haar familie en ’n gemeenskapslid van die voorval vertel. Toe sy haar aanvaller beskryf, het die gemeenskapslid aangedui dat hy die man ken en geweet het waar hy woon.
Die vrou het die polisie ontbied. Beamptes het die aangeduide woning besoek en van haar gesteelde besittings daar teruggevind. Machoba is daarna in hegtenis geneem.
Beskuldigde ontken skuld
Machoba het onskuldig gepleit en deur sy verdediging volgehou dat hy nie die misdade gepleeg het nie.
Die staatsaanklaer, advokaat Kefentse Diseko, het egter getuienis aangebied wat Machoba met die misdrywe verbind het. Die getuienis is deur konsekwente verklarings van getuies ondersteun.
Die staat het ook ’n slagofferimpakverklaring voorgelê wat die vrou met die hulp van Khensani Baloyi, ’n slagofferondersteuningsbeampte by die Thuthuzela-sorgsentrum, opgestel het.
Die verklaring het die diepgaande en voortdurende uitwerking van die verkragting op haar lewe uiteengesit.
Effektief 16 jaar tronkstraf vir verkragting en roof
Die hof het Machoba tot agt jaar gevangenisstraf vir verkragting en tien jaar vir roof met verswarende omstandighede gevonnis.
Die hof het gelas dat twee jaar van die roofvonnis samelopend met die verkragtingsvonnis uitgedien word. Dit beteken dat Machoba effektief 16 jaar gevangenisstraf moet uitdien.
Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit en die hof het gelas dat sy besonderhede in die Nasionale Register vir Seksuele Oortreders opgeneem word.
NVG verwelkom vonnis
Dr. Rachel Makhari, Noordwes se direkteur van openbare vervolging, het gesê die vonnis weerspieël die erns waarmee die staat seksuele misdrywe bejeën en die gevolge vir mense wat ander se regte en waardigheid skend.
Sy het advokaat Diseko en speurderkonstabel Moemedi Lefifi van die Suid-Afrikaanse Polisiediens geloof vir hul deeglike ondersoek en toewyding om geregtigheid te laat geskied.
Die NVG het herbevestig dat die vervolging van oortreders van geslagsgebaseerde geweld en seksuele misdrywe ’n prioriteit bly.
Bron: Nasionale Vervolgingsgesag, Noordwes, 9 November 2026.