Brekende Nuus
Nuus

Paniek by matriekkamp – bewerings van bonatuurlike kragte vals

Foto: Noordwes Departement van Onderwys

NOORDWES. – Gr. 12-leerlinge van Hoërskool Tshipietsile het Saterdag paniekbevange by hul hersieningskamp naby Morokweng ingepak om die plek te verlaat, nadat iemand beweer het bonatuurlike kragte is op die terrein en vier leerlinge sal sterf as hulle bly.

Volgens Mercy Mokgatle, woordvoerder van die onderwysdepartement, is die bewerings deur geen bewyse gestaaf nie. Dit is aan leerlinge oorgedra en het daarna onder ouers se aandag gekom. ‘n Voorlopige verslag deur die departement toon dat die situasie vererger het toe twee besoekers by die kamp aangekom en die leerlinge van die bewerings vertel het. Die leerlinge was ontsteld, het hul goed gepak en hul ouers gebel.

Die distrik- en skoolbestuur het besluit dat ouers hul kinders moet gaan haal om die situasie te kalmeer. Volgens Mokgatle het al die leerlinge veilig saam met hul ouers vertrek. Die departement het Sondag ‘n vergadering met ouers gehou. Hulle het ingestem dat die leerlinge vanaf Maandag na ‘n nabygeleë skool, ongeveer 800 meter van dié betrokke skool, verskuif word.

Mokgatle sê die departement doen ‘n beroep op ouers en die gemeenskap om versigtig te wees met inligting oor skole en leerlinge. Kommer oor leerlingveiligheid moet by die skoolbestuur of die departement aangemeld word, eerder as om dit as feit te versprei. Die departement wil veral nou, tydens die finale eksamen, hê dat leerlinge veilig en gefokus bly.