Die staat gaan tien hondegevegsake nie vervolg nie nadat bewyse in die polisie se ondersoek verkeerd hanteer is, beslaggelegde items nie ontleed is nie en getuienisverklarings onvolledig was.
Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NDBV) sê die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het in ’n brief van 29 Oktober 2026 bevind daar is geen redelike vooruitsig op ’n suksesvolle vervolging nie. Die sake is tussen agt en 11 jaar gelede geopen.
Volgens die NVG het verskeie ondersoekbeamptes oor die jare aan die sake gewerk en was daar gevalle waarin bewyse verkeerd bestuur en hanteer is.
Waarom die hondegevegsake misluk het
Medikasie waarop in sommige sake beslag gelê is, is na die verkeerde afdeling van die Forensiese Wetenskaplaboratorium gestuur en nooit ontleed nie. Daar was ook geen dokumentasie om aan te toon hoe dié bewysstukke van een persoon na ’n ander oorgedra is nie.
Ander bewysstukke is nie ontleed nie omdat dit verkeerd verpak is. Selfoonrekords waarvoor tydens die ondersoek aansoek gedoen is, het weggeraak. Omdat meer as 36 maande verloop het, kan daar nie weer daarvoor aansoek gedoen word nie.
Daar was ook leemtes in die insameling en inhoud van getuienisverklarings. Een van die verdagtes is intussen oorlede.
NDBV wil hê polisie moet rekenskap gee
Senior inspekteur De Klerk, bestuurder van die NDBV se spesialeprojekte-eenheid, sê hofsake oor hondegevegte staan of val, soos enige ander strafsaak, op die bewyse.
“Die honde wat in dié gevegte gebruik is, het gely en niemand sal daarvoor verantwoording doen nie. Dit is ongelooflik teleurstellend,” sê De Klerk.
Die NDBV betwis nie die NVG se besluit nie, maar doen ’n beroep op die polisie om rekenskap te gee van wat verkeerd geloop het en die verantwoordelikes aanspreeklik te hou.
Enigiemand met inligting oor hondegevegte kan die NDBV by 011 907 3590 of [email protected] kontak, of hul naaste DBV nader.
Lees ook: R5 000-beloning ná ontdekking van kritiek beseerde hond ná vermeende hondegeveg
Lees ook: ‘Onwettige hondegevegte’ in vyf dae knou toegedien