WAARSKUWING! Foto’s kan sensitiewe lesers ontstel.
WES-KAAP. – Die DBV Cape of Good Hope SPCA – in samewerking met die Stad Kaapstad se Dierebeheereenheid – se wetstoepassers het binne vyf dae twee klopjagte uitgevoer, waartydens twee beweerde hondegevegpersele ontbloot is. 12 honde is gered en drie persone is gearresteer.
Hoofinspekteur Jaco Pieterse het die operasies in Ottery en Eersterivier gelei en het dit as ‘n deurbraak in dié tipe misdaad bestempel. In Ottery is vyf honde en in Eersterivier sewe gered. Op beide die persele is afgebreekte, bloedbesmeerde beweerde hondegeveg-putte aangetref.
In Eersterivier is daar op 3 Februarie twee persele deursoek, waar sewe honde aan kettings, sonder water, in kommerwekkende toestande aangetref is. Tekens het aangedui tewe is slegs vir aanteel-doeleindes aangehou. ‘n Verdagte is gearresteer en na verwagting gaan nog arrestasies uitgevoer word. ‘n Kriminele saak is by Kleinvlei-polisiestasie geopen.
In Ottery is vyf honde met letsels van beweerde gevegte aangetref. Een van die honde en ‘n jong hond se ore is vars geknip en het steke in gehad. Items wat op hondegevegte dui, is gekonfiskeer – dit sluit ‘n trapmeul, breekstok en medikasie in. Twee verdagtes is gearresteer, het in die hof verskyn en is ten spyte van die DBV se teenstand op borg vrygelaat. Meer arrestasies word ook in dié saak verwag.
Intussen het die DBV ‘n beloning van R5 000 uitgeloof vir inligting wat tot die suksesvolle vonnisoplegging van individue, wat hulleself aan die hondegevegte skuldig maak, sal lei.
Pieterse benadruk indien iets verdag gesien word, moet dit aangemeld word, aangesien honde nie self kan praat nie. Aanmeldings kan deur e-pos by [email protected] gemaak word, of 0217004158/9 kan enige tyd van die dag of week gebel word.













