Brekende Nuus
Nuus

Wêreldwye Microsoft 365-onderbreking tref ook SA

Foto: Skermgreep Downdetector

Suid-Afrikaanse gebruikers het vanoggend (Vrydag) probleme met Outlook, Teams en Copilot ondervind nadat ’n wêreldwye Microsoft 365-onderbreking Donderdagaand begin het. Sommige Outlook-gebruikers kon nie hul inbokse oopmaak of e-posse stuur en ontvang nie. Die verbindingsprobleme het veral Exchange Online geraak, die diens waarop baie ondernemings vir hul e-pos en kalenders staatmaak.

Microsoft het op sy amptelike X Microsoft 365 Status-rekening gesê dit ondersoek probleme met toegang tot Exchange Online-posbusse. Die maatskappy het later aangedui dat die verbindingsprobleme gebruikers in enige streek kon raak. Volgens Microsoft was ’n deel van sy infrastruktuur onder buitengewone druk, wat waarskynlik tot die probleme bygedra het. Downdetector Suid-Afrika het ook aanmeldings van probleme deur gebruikers van Outlook aangeteken. Op die plaaslike blad het 40% van die meldings oor die Outlook-toepassing gegaan, 32% oor die ontvangs van boodskappe en 17% oor aanmelding. 

Volgens Associated Press het Downdetector kort ná 20:00 Suid-Afrikaanse tyd op Donderdag 12 November byna 130 000 meldings van Outlook-probleme in die VSA aangeteken.

Ben Hope, Microsoft se kommunikasiedirekteur, het gesê die maatskappy ondersoek die probleme. Microsoft het berig dat ’n deel van sy infrastruktuur in verskeie streke onder buitengewone druk verkeer het en dat dit waarskynlik tot die verbindingsprobleme bygedra het. Sommige streke het tekens van herstel getoon, maar volgens die jongste opdatering was die dienste Vrydagoggend steeds nie ten volle herstel nie.

Bronne: University Pennsylvania, Associated Press, ECR, The Verge, Downdetector