NOORDWES. – Die polisie vra ondernemings in Zandfontein om hul veiligheid op te skerp, nadat sakerowe in dié gebied sedert Oktober toegeneem het. Dié beroep volg nadat Marcus de Vrye (20) op Woensdag 4 November omstreeks 01:00 by ’n sakeperseel wat aan sy gesin se huis verbind is, deur gewapende rowers aangeval is. Volgens sy ma, Zelda Heunes, het hy byna ’n uur lank teen die aanvallers baklei om hulle uit die huis te hou waar sy was.
De Vrye was omstreeks 01:00 besig om PlayStation te speel op die sakeperseel, toe ’n man met ’n tuinvurk agter hom verskyn het. Hy het hierna verbete teen vier aanvallers baklei om hulle uit die huis te hou waar sy ma was. Die dapper jong man het geringe beserings opgedoen en was boonop met ’n elektriese koord vasgebind. Die verdagtes het onder meer sy PlayStation en selfoon gebuit.
Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, het die toename in sakerowe aan Nuusflits bevestig. Sy sê die polisie vermoed dat dieselfde groep moontlik by die rooftogte betrokke is. Dié verband moet nog bevestig word. Enigiemand met inligting oor die sakeroof waarby De Vrye die slagoffer was, kan sers. Ellen Mokwena van die Brits-speurtak by 079 818 3599 bel.
