Anke Coetzer het by Coleske Artists aangesluit en haar debuutenkelsnit, Vergeet Om Jou Te Mis, uitgereik. Die musiekmaatskappy het haar vroeër vanjaar raakgesien nadat sy en haar sussie, Elmé Erasmus, ’n video gedeel het waarin hulle Riaan Benadé se Keeza sing. Coetzer het haar debuutliedjie saam met Marco van Deventer en Georic Lomas geskryf.
Fanie Nel, van die Coleske Groep, sê die liedjie gaan oor die oomblik wanneer jy besef jy het aanbeweeg en iemand wat eens ’n groot deel van jou lewe was, nie meer mis nie. Coetzer het die musiekvideo in ’n blomtuin verfilm. “Dit het soos ’n sprokie gevoel en ek het net my hart uitgesing in die tannie se tuin,” sê sy.
Coetzer is ’n gekwalifiseerde apteker wat sedert graad 7 liedjies skryf en van 16 af optree. Sy het in 2023 aan Mej. Suid-Afrika deelgeneem en is tans saam met die aktrise Leandie du Randt as spanmaat in Tropika Island of Treasure te sien.
Kry Vergeet Om Jou Te Mis hier op alle stromingsdienste.