Brekende Nuus
Nuus

4 laat vaar borgtogaansoek in saak van Ventersdorp-plaasaanval

Foto: Eesruf Veiligheids Groep Reaksie-span

NOORDWES. – Phindile Nomngcayi (30), Thomas Motlhangtlhong (27), Mothoka Mathipa (56) en Mokhema Maishane (53), die beskuldigdes in die saak van die plaasaanval op Donovan Marx, het vandag (Vrydag) in die Ventersdorp-landdroshof hul borgtogaansoek laat vaar.

Soos Nuusflits vroeër berig het, is Marx op 28 Oktober op sy plaas Syferfontein tussen Ventersdorp en Potchefstroom gemartel, geskiet en gesteek. Hy is op 12 November ná langer as twee weke se behandeling uit Mediclinic Potchefstroom ontslaan.

Lindiwe Mabasa, NVG-woordvoerder, sê die staat was gereed om met die aansoek voort te gaan. Die beskuldigdes staan tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, poging tot moord, aanranding, die rig van ’n vuurwapen, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en die onwettige besit van ammunisie. Die saak is vir verdere ondersoek tot 15 Februarie 2027 uitgestel.

Die NVG het die aanklagte teen ’n vyfde persoon teruggetrek nadat ’n beoordeling van die dossier getoon het dat daar onvoldoende bewyse was om dié persoon met die beweerde misdrywe te verbind. Die persoon het aangedui dat hy bereid is om as gewone staatsgetuie te getuig. Artikel 204 van die Strafproseswet sal volgens die NVG nie op sy getuienis van toepassing wees nie.