Brekende Nuus
Misdaad

Tiener (16) vas ná polisie gesteelde rewolwer in New Brighton vind

Die polisie het ’n 16-jarige in New Brighton in hegtenis geneem nadat hulle ’n .38 Special-rewolwer teruggevind het wat in 2016 in George as gesteel aangemeld is.

tiener gesteelde rewolwer new brighton
Fotokrediet: SAPD

OOS-KAAP. – ’n 16-jarige seun is in New Brighton in die Oos-Kaap in hegtenis geneem nadat die polisie ’n rewolwer teruggevind het wat agt jaar gelede in George as gesteel aangemeld is.

Luidens ‘n polisieverklaring het polisielede van die Motherwell-groepering se taakspan vir drieledige misdaadbekamping omstreeks 22:00 op 12 November inligting oor ’n vuurwapen opgevolg. ’n .38 Special-rewolwer en ses rondtes ammunisie is by ’n huis in Sangotshastraat gevind.

Volgens die polisie is die vuurwapen in 2016 in George as gesteel aangemeld.

Die tiener is op aanklagte van die beweerde onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie in hegtenis geneem en by Nerina House aangehou. Hy sal na verwagting binnekort in die Nerina-landdroshof voorkom.

Die rewolwer sal vir forensiese toetsing gestuur word om vas te stel of dit moontlik met ander misdade verbind kan word. Die ondersoek duur voort.

Bron: SAPD