Brekende Nuus
Misdaad

5 met dwelms by Hartswater-padblokkade vasgetrek

Vyf mense tussen 22 en 41 jaar is tydens ’n padblokkade in Hartswater in hegtenis geneem nadat dagga, Mandrax en tik in hul voertuig gevind is.

hartswater padblok
Fotokrediet: SAPD

HARTSWATER. – Vyf mense is Vrydag 13 November tydens ’n padblokkade in Hartswater in die Noord-Kaap in hegtenis geneem nadat dwelms in hul voertuig gevind is.

Luidens ’n polisieverklaring is die verdagtes, tussen 22 en 41 jaar oud, tydens ’n operasie as deel van Operasie Shanela II se hoëdigtheidsoptrede vir die feesseisoen voorgekeer.

Polisielede van Hartswater, die Hartswater-snelwegpatrollie en die K9-eenheid het ’n wit Isuzu-dubbelkajuitbakkie afgetrek. ’n Deursoeking van die voertuig en sy vyf insittendes het dagga, Mandrax-tablette en kristalmetamfetamien (tik) met ’n beraamde waarde van R5 000 opgelewer.

Die voertuig is ook gekonfiskeer omdat dit na bewering in die pleeg van ’n misdaad gebruik is.

Al vyf insittendes is op aanklagte van dwelmbesit in hegtenis geneem. Hulle sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.

Die SAPD sê hoëdigtheidsoperasies en samewerking met gemeenskappe sal voortgaan om dwelmhandel en dwelmverwante misdaad te bekamp.

Bron: SAPD