Brekende Nuus
Misdaad

Kos vir leerlinge na bewering tydens gewapende skoolroof gesteel

Vier gewapende mans het na bewering by ’n hoërskool in Phaudi ingebreek en kos gesteel wat vir leerders se voedingsprogram bedoel was. Die polisie is op hul spoor.

rowers steel leerders se kos phaudi
Foto: Ter illustrasie

LIMPOPO. – Vier gewapende mans het na bewering by ’n hoërskool in Phaudi, Limpopo, ingebreek en kos gesteel wat vir die leerlinge bedoel was.

Die voorval het Vrydag 13 November omstreeks 00:40 plaasgevind terwyl twee veiligheidswagte aan diens was.

Volgens die polisie het die vier verdagtes, wat balaklawas gedra het, die veiligheidswagte se kantoor binnegestorm. Een van die mans was gewapen met ’n vuurwapen en het ’n waarskuwingskoot afgevuur om die wagte te intimideer.

Die verdagtes het die veiligheidswagte oorrompel en vuurwapens van hulle geëis. Hulle is daarna na die kantoor, waar hulle die stoorkamer oopgebreek en ’n instapkluis oopgedwing het. Die veiligheidswagte is vervolgens in die vertrek toegesluit.

Die mans het kos gesteel wat bedoel was om die leerlinge by die skool te voed. Hulle het daarna te voet van die toneel gevlug.

Die Phaudi-polisie het ’n saak van sakeroof geopen en is op soek na die vier verdagtes.

Enigiemand met inligting wat tot hul inhegtenisneming kan lei, kan sersant Tom Baloyi by 082 732 5028, Misdaadstop by 08600 10111 of die naaste polisiestasie kontak. Inligting kan ook deur die MySAPS-toepassing deurgegee word.

Die ondersoek duur voort.

Bron: SAPD