Brekende Nuus
Tegnologie

Gmail en Apple-dienste deur onderbrekings geraak

Duisende gebruikers het Dinsdag probleme met Gmail en verskeie Apple-dienste, waaronder Apple Pay, iCloud en die App Store, aangemeld.

Kontaklose betaling met ’n selfoon by ’n kaartmasjien
Foto: Verskaf

Duisende gebruikers het Dinsdag probleme met Gmail en verskeie Apple-dienste aangemeld, enkele dae ná ’n wêreldwye onderbreking van Microsoft se dienste.

Volgens The Guardian het gebruikers probleme met onder meer Apple Pay en iCloud op die webwerf Downdetector aangemeld. Apple se eie stelselstatusblad het ook onderbrekings by die App Store en Apple Music aangedui, asook probleme om by iCloud aan te meld.

Daar was ook ’n toename in klagtes oor Gmail, maar die omvang van die probleme met Google se e-posdiens was nie onmiddellik duidelik nie.

Die jongste probleme volg op ’n groot onderbreking van Microsoft se dienste verlede week. Gebruikers in verskeie lande kon nie toegang tot Outlook en ander werkplektoepassings kry nie. Die ontwrigting het ook Teams en Microsoft se kunsmatige-intelligensieassistent Copilot geraak.

Dit was nie onmiddellik duidelik wat die probleme met Apple se dienste veroorsaak het of of daar enige verband tussen die onderskeie onderbrekings is nie.

Bron: The Guardian