NOORDWES. – Die polisie het Vrydag twee buitelandse burgers, onderskeidelik 34 en 38 jaar oud, in hegtenis geneem nadat beamptes op ’n hoewe in Rietfontein, Hartbeespoortdam, op ’n vermeende onwettige goudwassery afgekom het.
Die Bojanala-span het ‘n wenk ontvang waarna polisie- en weermagbeamptes die terrein tydens die voorlopige ondersoek met ’n hommeltuig dopgehou het. Kol. Anne Magakoe, polisiewoordvoerder, sê beamptes het twee klein damme en twee swembaddens aangetref, waarin sand was wat met chemikalieë gemeng is. Die chemikalieë, waaronder loodnitraat, natriumsianied en waterstofperoksied, is vermoedelik gebruik om goud te verwerk.
Die polisie het met die hulp van die plaaslike kriminele rekordesentrum, die forensiese wetenskaplaboratorium se eenheid vir edelmetale, Madibeng se omgewingsdepartement en speurders wat onwettige mynbou ondersoek, die toneel gefynkam. ’n Kragopwekker, pompe, grawe, ’n pik, ’n skaal, ’n gassilinder en selfone is onder meer gekonfiskeer. Een van die verdagtes is volgens die polisie na bewering onwettig in Suid-Afrika.
Die twee verdagtes sal na verwagting vandag op aanklagte wat verband hou met die beweerde oortreding van die wet op nasionale omgewingsbestuur in die Brits-landdroshof voorkom.
