Die voormalige bankbestuurder Arrie Rautenbach gaan dié week byna 1 200 km van Bloemfontein na Wellington fietsry om bewustheid oor Parkinson se siekte te skep en geld in te samel vir mense wat met die toestand leef.
Rautenbach, stigter van die Arrie Rautenbach Parkinson’s Foundation, neem op 25 November vir die eerste keer aan The Munga deel. Dié uithourit voer bergfietsryers grotendeels op grondpaaie deur die Karoo na die eindpunt in die Wes-Kaap.
Hy hoop om deur sy deelname R250 000 vir navorsing en ondersteuning vir mense met Parkinson se siekte en hul families in te samel.
Rautenbach, wat self met Parkinson se siekte leef, sê ’n diagnose hoef nie die einde van ’n mens se drome te beteken nie.
“Mense sien ’n diagnose soms as die einde van wat moontlik is. Ek het nog altyd geglo dit hoef nie so te wees nie. Parkinson se siekte is deel van my reis, maar dit hoef nie die grense van dié reis te bepaal nie,” sê hy.
“Elke uitdaging wat ek aanpak, is ’n geleentheid om te wys wat steeds bereik kan word, terwyl ek ander help wat met dieselfde diagnose leef.”
’n Uitdaging deur die Karoo
Rautenbach het vroeër vanjaar aan die veeleisende NorthCape4000 deelgeneem en sedertdien voortgegaan om vir die Munga te oefen.
Hy sê die wedren se tema, Your Journey, Your Story – jou reis, jou storie – het by hom aanklank gevind.
Die fisieke eise van ’n ultra-uithourit is vir enige fietsryer groot. Vir Rautenbach bied dit ook ’n geleentheid om gesprekke aan te moedig oor ’n siekte wat dikwels net met bewing en bewegingsprobleme verbind word.
Parkinson se siekte is ’n progressiewe neurologiese toestand wat met die verlies van dopamienproduserende selle in die brein verband hou. Benewens bewegingsprobleme kan mense onder meer moegheid, slaapversteurings, blaasprobleme en veranderinge in hul gemoed of motivering ervaar. Simptome en die uitwerking daarvan verskil van mens tot mens.
Ondersteuning vir families
Die geld wat Rautenbach insamel, sal volgens die stigting Parkinson-navorsing ondersteun en help om inligting, leiding en ondersteuning aan mense met die siekte en hul families te verskaf.
Jack Black, organiseerder van die Munga, sê Rautenbach se deelname weerspieël die gees van die wedren.
“Deur by die wegspringplek aan te meld, pak Arrie nie bloot ’n uitmergelende fisieke uitdaging aan nie. Hy skryf ’n verhaal met ’n doel wat veel verder as die fiets strek,” sê Black.
Rautenbach hoop mense sal sy reis volg en die fondsinsamelingsveldtog ondersteun.
“Elke bydrae kan ons help om die werk van die stigting voort te sit. Die wedren is dalk myne om te ry, maar die rede daaragter behoort aan ons almal.”