GAUTENG. – Swaar reën het Woensdag huise, paaie en brûe in Johannesburg oorstroom, terwyl die storm ook skade en kragonderbrekings in Pretoria veroorsaak het. Noodwerkers het Woensdagaand ’n motoris in Fourways na veiligheid geneem nadat sy voertuig in Witkoppenweg weggespoel het.
Robert Mulaudzi, woordvoerder van Johannesburg se nooddienste, sê die beheersentrum het deur die nag talle oproepe oor oorstroomde paaie en woongebiede ontvang. Verskeie huise in 15de Laan in Alexandra het oorstroom. Die motoris in Fourways het aan ’n boom vasgeklou totdat noodwerkers hom bereik het. Volgens Mulaudzi is geen beserings aangemeld nie.
Xolani Fihla, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, het Woensdagaand oorstromings by die brûe in Witkoppenweg, Belgravestraat en Bryanstonrylaan aangemeld. Die Allandaleweg-oprit na die N1 in Midrand, Vincent Tshabalalaweg in Alexandra en Marlbororylaan in Kelvin is ook geraak.
Die Johannesburgse metropolisie het Woensdag om 23:00 in ’n verkeerskennisgewing gesê die Johannesburgse Padagentskap (JRA) het Nasrecweg in Riverlea tussen Main Reefweg en Dunlinrylaan vir alle verkeer gesluit nadat padinfrastruktuur ineengestort het. Volgens die kennisgewing sal dié gedeelte gesluit bly totdat die JRA se ingenieurs die skade beoordeel en herstel het.
Nasrecweg bly suid van die sluiting oop tussen die N17, die M1 en Rifle Rangeweg, maar noordwaartse toegang na Main Reefweg is by Dunlinrylaan afgesper. Die metropolisie het Crownwoodweg of New Canadaweg as alternatiewe vir noord-suid-verkeer aangedui. Plaaslike verkeer kan Coloradorylaan en Avonstraat gebruik om tussen Main Reefweg en Nasrecweg te beweeg.
In Tshwane het die reën ook skade gebring. In Centurion het die Tshwane-metropolisie die Hennopsrivierbrug by Rabiestraat en Endstraat weens oorstromings gesluit. Padsluitings is ook by die kruisings van Rabiestraat en Von Willichlaan en van John Vorsterrylaan en Embankmentweg aangekondig. In Moreletapark is ’n huis se dak in Jacquesstraat volgens ESP beskadig en het slaapkamers oorstroom nadat hael die geute verstop het. ESP berig ook dat omgevalle bome kragkabels in Daffodil- en Bouvardiastraat in Lynnwood Ridge beskadig het. Kragonderbrekings is onder meer in Faerie Glen, Constantia Park, Garsfontein en Waterkloof Glen aangemeld.
EWN het ook oorstromings in dele van Ekurhuleni aangemeld. Gauteng Metrorail het Donderdag bevestig dat die storms verskeie treindienste in die provinsie ontwrig het.
Bronne: eNCA, SABC News, Tshwane-metropolisie, ESP, EWN, Gauteng Metrorail, Snow Report