Brekende Nuus
Diere

Gryp jou selfoon en help dié naweek om SA se natuurlewe te dokumenteer

Van ’n skoenlapper in jou tuin tot ’n veldblom langs die pad – jou foto’s kan wetenskaplikes help om Suid-Afrika se biodiversiteit beter te verstaan.

neem fotos natuur great southern bioblitz
Foto: Ter illustrasie

SUID-AFRIKA. – Wanneer laas het jy stilgestaan om na ’n skoenlapper, ’n buitengewone insek of ’n veldblom te kyk? Dié naweek kan jy met jou selfoon bydra tot wetenskaplike navorsing, sommer vanuit jou eie tuin.

Die jaarlikse Great Southern Bioblitz het Vrydag begin en duur tot Maandag 30 November. Die inisiatief moedig mense aan om wilde plante, diere en swamme af te neem en hul waarnemings op die gratis iNaturalist-toepassing te deel.

Jy hoef nie ’n natuurkenner te wees of selfs te weet wat die naam is van die spesie wat jy afneem nie. Ander gebruikers van die toepassing help met die identifisering daarvan.

Verlede jaar het 1 468 Suid-Afrikaners meer as 52 000 waarnemings aangeteken en sodoende 6 138 verskillende spesies gedokumenteer. Onder dié bevindings was meer as 600 soorte plante en diere waarvan die bewaring kommer wek.

Die inligting help wetenskaplikes om bedreigde spesies te monitor, die verspreiding van indringerplante en -diere na te spoor en bewaring beter te beplan.

Hoe kan jy deelneem?

  • Laai die gratis iNaturalist-toepassing op jou selfoon af.
  • Verken jou tuin, buurt, ’n park of ’n natuurreservaat.
  • Neem duidelike foto’s van wilde plante, voëls, insekte, ander diere of swamme.
  • Laai jou foto’s op die toepassing. Waarnemings in geregistreerde gebiede tel outomaties vir die geleentheid.

Onthou om die natuur te respekteer terwyl jy foto’s neem. Moenie wilde diere versteur of plante beskadig nie.

Maak gerus dié naweek ’n gesinsaktiwiteit daarvan. Wie weet watter interessante spesies julle in jul eie agterplaas kan ontdek?

Nuusflits nooi lesers ook uit om hul mooiste en interessantste natuurfoto’s in die kommentaarafdeling van ons Facebook-plasing te deel.

Bron: Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (SANBI)