Brekende Nuus
Leefstyl

Só voel lesers oor ‘Black Friday’

Terwyl sommige Nuusflits-lesers groot besparings op Black Friday geniet het, meen ander die winskopies is nie die moeite werd nie.

Black Friday winskopies
Foto: Ter illustrasie

SUID-AFRIKA. – Terwyl sommige Suid-Afrikaners gister hul inkopietrollies en aanlyn mandjies volgepak het, het talle Nuusflits-lesers besluit om eerder hul geld in hul sak te hou. Vir sommige was Black Friday ’n geleentheid om groot te bespaar, terwyl ander meen die jaarlikse inkopiegeleentheid word heeltemal oordryf.

Nuusflits het lesers op Facebook gevra of hulle verkies om op Black Friday aanlyn of in die winkel inkopies te doen en hoe hulle seker maak dat ’n winskopie werklik ’n winskopie is.

Ken jou pryse

Een van die goue reëls wat telkens in lesers se antwoorde na vore gekom het, is dat ’n mens jou pryse moet ken voordat jy inkopies doen.

“As jy jou pryse ken, sal jy sien nie alles is so ’n groot special soos wat hulle sê dit is nie. Daar is wel ook lekker specials, moet my nie verkeerd verstaan nie, maar dis nie die hype werd nie,” skryf Odette Lidderd.

Maureen Jansen van Rensburg meen baie van die aanbiedinge verskil nie veel van winkels se gewone maandelikse spesiale aanbiedinge nie. Nikki Dove verkies weer om reeds ’n week voor Black Friday aanlyn inkopies te doen omdat sy dan goedkoper aanbiedinge kry.

Corrie Smith Venter meen ook dat ’n mens makliker ’n winskopie kan raaksien as jy weet wat ’n produk gewoonlik kos.

Sommige het wel groot bespaar

Nie almal is egter skepties oor Black Friday nie. Ronélda van der Schyff vertel dat sy groot besparings by Dis-Chem geniet het, terwyl Pieter Claassens die beste prys vir sy aankoop op Takealot gekry het.

Susan Etheridge het vir haar ’n nuwe bedkopstuk aangeskaf.

“Dit was ’n aanwins, maar as ’n reël koop ek nie op Swart Vrydag nie,” skryf sy.

Vir Maryke van Wyk was daar plek vir sowel aanlyn inkopies as ’n besoek aan die winkels.

Geen winskopie is die stres werd nie

Vir ander lesers is dit nie noodwendig die pryse wat hulle afskrik nie, maar eerder die gedrang in die winkels en die lang rye by betaalpunte.

Christel Neethling meen daar sal volgende week weer aanbiedinge wees. Sy sien nie kans vir mense wat met inkopietrollies teen haar hakke ry en by die betaalpunte op haar rug staan nie.

“Ek koop niks nie. Bly weg uit die winkels, dus geen stres agterna,” skryf Katy Maritz.

Liezel Jansma vermy die winkels op Black Friday en het nog nooit iets aanlyn gekoop nie. Hannetjie Keet Niewenhuizen het weer besluit om bloot iets te ete te koop en huis toe te gaan.

Adriaan Steyn het ’n ander rede gehad om nie aan die koopmalligheid deel te neem nie: sy betaaldag is eers op die tiende.

Jurgens Smit som sy benadering eenvoudig op: “Met jou geld in jou sak is jy beter af.”

Bron: Nuusflits-lesers se Facebook-kommentaar