SUID-AFRIKA. – ’n Sonsondergang in die Bosveld, ’n wandeling langs die Kaapse kus of ’n rustige wegbreek in die Drakensberge. Wat vir baie Suid-Afrikaners amper vanselfsprekend geword het, is vir talle buitelandse besoekers ’n droombestemming.
Suid-Afrika het in Oktober vanjaar 1 020 249 internasionale toeriste verwelkom. Dit is 10% meer as in Oktober verlede jaar.
In die eerste tien maande van 2026 het meer as 9,4 miljoen internasionale toeriste die land besoek. Suid-Afrika is daarmee goed op dreef om verlede jaar se rekord van 10,5 miljoen te oortref.
Die meeste toeriste is afkomstig van ander Afrikalande, met Mosambiek, Zimbabwe en Lesotho wat die botoon voer. Onder oorsese besoekers was die Verenigde Koninkryk in Oktober die grootste bron van toeriste, gevolg deur Duitsland en die Verenigde State van Amerika.
Dit is ook nie net die toerismesyfers wat rede tot ‘n glimlag bied nie. Lesers van die internasionale reistydskrif Wanderlust het Suid-Afrika onlangs by die jaarlikse Wanderlust Reader Travel Awards as die wêreld se mees gesogte bestemming vir natuur en wild aangewys.
Suid-Afrika het boonop die derde plek op die lys van die wêreld se mees gesogte reisbestemmings behaal, terwyl Kaapstad derde in die afdeling vir stede geëindig het.
Patricia de Lille, minister van toerisme, meen die groei bied geleenthede om beleggings te lok, werk te skep en meer plaaslike gemeenskappe by die toerismebedryf te betrek.
Met die Desembervakansie om die draai, is dit dalk ook vir Suid-Afrikaners tyd om weer ons eie land deur die oë van ’n toeris te ontdek. Van die uitgestrekte Karoo en die watervalle van Mpumalanga tot die Weskus se vissersdorpies is daar heelwat om te verken.
Bronne: Departement van Toerisme, Statistieke Suid-Afrika, Kabinet