MPUMALANGA. – ’n Vrou is vermoedelik deur twee mans doodgewurg, waarna hulle beheer oor die gesteelde bakkie verloor het.
Daar word beweer die slagoffer se tuinwerker het saam met die verdagtes gewerk en is ook intussen in hegtenis geneem saam met die mans wat die bakkie bestuur het.
Deur die tuinwerker gekontak
Carel Botha, voorsitter van die buurtwag, sê die verdagtes is vermoedelik deur die tuinwerker gekontak waarna die vrou glo in die motorhuis doodgewurg is. Die vrou se ma is ook aangerand en vasgebind, sy het haarself losgewikkel en het die polisie en paramedici ontbied. Die polisie het die bakkie met die twee mans agternagesit.
Tydens die voorval het die verdagtes die tuinwerker vasgebind, vermoedelik om dit te laat lyk dat hy nie betrokke is nie.
Nog nie bekendgemaak nie
Marius Muller, nasionale veiligheidskoördineerder van AfriForum, sê die aanvallers het 14 km van die kleinhoewe beheer oor die bakkie verloor. Een van die verdagtes is ernstig beseer en hospitaal toe geneem terwyl die ander een in hegtenis geneem is.
Die polisie het die kontaknommer van die tuinwerker op die verdagtes se foon gevind.
Die vrou se identiteit is nog nie bekendgemaak nie.
Volg Find-it hier.





