LOS ANGELES, VSA. – ’n Aandklokreël is in Los Angeles ingestel ná byna ’n week van onrus oor die klopjagte op immigrante. Die aandklokreël is deur Los Angeles se burgemeester, Karen Bass, ingestel. Sy het op X gesê dis om “mense te stop wat wil baat by die president se chaotiese eskalasie”. Sy het Trump voorheen blameer vir die verergerende situasie in Los Angeles met sy ontplooiing van die nasionale wag.
Lees ook: Betogings teen deportasie in Amerika versprei
Sowat 400 persone is in Los Angeles in hegtenis geneem sedert die betogings verlede Vrydag begin het ná klopjagte op buurte waar Spaanssprekendes woon.
Die betogings het na sowat 35 stede in die VSA versprei met Donald Trump wat die nasionale wag en seesoldate ontplooi het om die situasie onder beheer te bring.
Die nasionale wag is toestemming gegee om mense in aanhouding te neem totdat die polisie hulle in hegtenis kan neem.
Trump het die immigrasie-beamptes beveel om daagliks sowat 3 000 mense in hegtenis te neem as deel van sy beleid om onwettige immigrasie deur deportasie te stop.
Bronne: BBC, The Independent, ABC News





