VSA. – Aanklagte teen ’n groep tieners van die Amerikaanse deelstaat Georgia, wie se hoërskoolonderwyser dood is toe hulle hom ’n poets by sy huis wou bak, is laat vaar.
Volgens NBC News is vyf 18-jariges deur strafregtelike aanklagte in die gesig gestaar ná die dood van Jason Hughes, wat op 6 Maart oorlede is toe een van die tieners hom buite sy huis met ’n bakkie raakgery het Hughes was 40 jaar oud en ‘n wiskunde-onderwyser en gholfafrigter by ‘n plaaslike hoërskool.
Volgens die Hall County Sheriff’s Office het die vyf tieners – almal 18 jaar oud – die aand van 6 Maart bome voor Hughes se huis met toiletpapier toegedraai. Hughes het geweet van die poets en wou die tieners verras. Hy het uit sy huis gekom toe die poetsbakkers in twee voertuie wou vertrek.
Hughes het op die gladde pad gegly en geval. Een van die tieners, wat ’n bakkie bestuur het, het hom toe per ongeluk raakgery.
Die tieners het stilgehou en probeer om Hughes te help totdat nooddienste opgedaag het. Hy is hospitaal toe geneem, maar is later aan sy beserings oorlede.
Al vyf tieners is aanvanklik aangekla van onwettige betreding en rommelstrooi op private eiendom, maar dié aanklagte is nou laat vaar.
’n Prokureur vir die familie van die seun wat die bakkie bestuur het, Graham McKinnon, het gesê daar was geen misdaad nie, maar “slegs ’n uiters hartseer en verwoestende ongeluk”. Hy het Hughes se vrou bedank vir haar “merkwaardige deernis en gees van vergifnis te midde van die enorme verlies van haar man”.
Bronne: NBC News, USA Today





