LIMPOPO. – ’n Bakkie met 11 passasiers is glo deur insittendes van ’n sedanvoertuig aangeval. Een passasier is dood en verskeie ander in die bakkie is beseer.
Volgens beskikbare inligting het ’n 57-jarige man met ’n wit Nissan NP 200-bakkie het 11 passasiers onderweg na Nkowankowa opgelaai. By die laaste stopstraat buite die dorp het hy glo twee mans opgemerk wat buite ’n wit Toyota Etios met ’n “Taxi Patrol”-kenteken sonder ’n sigbare registrasienommer gestaan het.
Lt. kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê die verdagtes het daarna in die Etios geklim en die bakkie agternagesit. Die bestuurder van die bakkie het gestop toe hy ’n vreemde geluid hoor. Hy het beheer oor die voertuig verloor en dit het teen pilare langs die pad gebots. Passasiers is uitgeslinger voordat dit in die middel van die pad tot stilstand gekom het.
Die bestuurder van die Etios het daarna omgedraai en na Tzaneen teruggery. Polisie en nooddienste is na die toneel ontbied en ’n 55-jarige man is op die toneel dood verklaar. Nege passasiers is in ’n kritieke toestand vir mediese behandeling na die plaaslike hospitaal geneem.
Die polisie se ondersoek duur voort. Enigiemand met inligting word gevra om lt.kol. Tsakane Ngewenya by 082 469 0931 te bel.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com