OOS-KAAP. – Die beskuldigdes wat verlede jaar ‘n plaaseienaar oorrompel, gemartel, vasgebind en met kookwater gebrand het, is vandag in die hooggsregshof in Oos-Londen skuldig bevind.
Odwa Dyabana (26), Luthando Ngangelizwe (29) en Siseko Qhayisa (31) het die boer op 20 Februarie 2024 in Bluewater, binne die Buffalo City Metro Munisipaliteit, aangeval.
Luxolo Tyali, woordvoerder vir die NVG in dié provinsie, sê die beskuldigdes het onder voorwendsel om honde te koop op die plaas aangekom. Nadat hulle die plaaseienaar se vertroue gewen het , het hy hulle met sy Toyota Land Cruiser na die hondehokke geneem. Daar het die beskuldigdes vuurwapens uitgehaal, die boer vasgebind en na die plaashuis teruggekeer waar die roof voortgesit is.
Die eienaar en vier werknemers is aangerand, ontvoer en as gyselaars aangehou. In ‘n poging om die sleutels tot die kluis in die hande te kry, het die aanvallers die eienaar vasgebind, met kookwater gebrand en met ’n kettingsaag gedreig. Toe hulle nie toegang tot die kluis kon kry nie, is gereedskap gebruik om dit van die muur af los te maak, op die gesteelde Land Cruiser te laai en saam met die slagoffer se ander voertuig, ‘n Toyota Hilux, van die toneel te vlug. Die waarde van die gesteelde goedere, wat twee voertuie, gewere, trouringe, polshorlosies, verkykers en ander waardevolle items ingesluit het, is op meer as R2,2 miljoen geskat.
Tydens die verdagtes se vlug was die Land Cruiser in ‘n botsing met ‘n Toyota Quantum en ‘n VW Polo op die N2 naby Beacon Bay betrokke. ‘n Vrou het rugbeserings opgedoen en het later in die hospitaal gesterf. Nog 15 insittendes van die voertuie is beseer.
Tyali sê Dyabana en Ngangelizwe is naby die toneel in hegtenis geneem. Ngangelizwe is aangekeer nadat hy van die agterkant van die Land Cruiser afgeval het en Dyabana terwyl hy te voet probeer vlug het. Qhayisa kon aanvanklik daarin slaag om van die gereg te ontvlug, maar is ’n paar dae later aangekeer. Die beskuldigdes het op alle aanklagte onskuldig gepleit, maar is skuldig bevind vir onder meer roof met verswarende omstandighede, poging tot moord, die rig van ’n vuurwapen, vyf aanklagte van ontvoering, vier aanklagte vir die onwettige besit van ’n vuurwapen, asook vir die onwettige besit van ammunisie. Daarbenewens is Dyabana skuldig bevind aan strafbare manslag en roekelose- en nalatige bestuur.
Lundi Magobongo (26), wat ook aanvanklik aangekla is, is vrygespreek. Die hof het sy weergawe van die gebeure aanvaar – hy was bloot ’n gekontrakteerde e-hailing-bestuurder en het slegs die beskuldigdes vervoer. Daar was geen bewyse wat hom direk aan die misdade kon koppel nie.
Volgens Tyali is vonnisverrigtinge vir 1 tot 4 Julie in die hooggeregshof geskeduleer. NVG sal gepaste streng vonnisse vir die misdade versoek.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com
One Response
Lewenslank sou ‘n gepaste straf wees, verwyder hulle uit die samelewing