GAUTENG. – Aarto, die strafpuntstelsel vir verkeersmisdrywe, wat op 1 Desember vir 69 munisipaliteite in werking sou tree, is nou tot 1 Julie 2026 uitgestel.
Colllen Msibi, woordvoerder vir die departement van vervoer, het gister in ‘n verklaring gesê die besluit is gesamentlik deur Barbara Creecy en Mkhuleko Hlengwa geneem, onder meer vanweë opleiding wat nog by sekere munisipaliteite skort. Die nuwe proklamasie met implementeringsdatums sal binnekort gepubliseer word.
Die eerste fase van die nasionale uitrol van die Wet op die Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe (Aarto) is op 1 Julie 2021 in werking gestel. Die tweede fase sou amptelik op 1 Desember 2025 begin en die bekendstelling sou 69 munisipaliteite insluit. Bekendstelling vir die oorblywende 144 munisipaliteite sou as derde fase op 1 April 2026 wees.
Aarto het oorspronklik in 1998 wetgewing geword en is sedertdien vir meer as twaalf jaar in die jurisdiksies van die metromunisipaliteite van Tshwane (vanaf 1 Julie 2008) en Johannesburg (vanaf 1 November 2008) van krag. Die wet verskil heeltemal van die strafproseswet, wat landwyd steeds gebruik word om padverkeersoortredings te vervolg. Die Aarto-wet versnel hoofsaaklik die invordering van verkeersboetes en plaas ’n administratiewe las op oortreders. Dit bied ’n sistematiese administratiewe raamwerk vir die bestuur van verkeersboetes en verwysings binne die betrokke munisipaliteite, met spesifieke voorskrifte vir Johannesburg en Tshwane. Die nasionale bekendstelling sal die stelsel landwyd uitbrei en alle munisipaliteite by die proses betrek.
Lees die volledige verklaring van die uitstel hier onder. Druk hier om meer inligting oor Aarto te lees.

Bronne: AARTO en Departement van Vervoer





