OOS-KAAP. – Achi, die Labrador, se lewe is gered nadat owerhede Donderdag suksesvol ingegryp het. Achi was op 2 Augustus deel van ‘n dramatiese seereddingsoperasie toe ‘n Switserse pa en sy Duitse dogter, saam met die hond, gedwing is om hulle seiljag aan die kus in Oos-Londen agter te laat nadat dit in moeilike see-omstandighede beland het. Terwyl die familie en hond gered is, is die seiljag en reddingsvlot steeds nie gevind nie.
Craig Lambinon, NSRI-woordvoerder, sê hulle is oorweldig deur die groot steun wat plaaslik en internasionaal ontvang word. Hulle doen ’n beroep op die publiek wat skenkings aangebied het om dit deur Nahoon-dierekliniek, bestuur deur dr. Pete Wood, te doen. Dr. Wood sal alle koste rakende staatsdieregesondheidstoetse en die voortgesette versorging van Achi hanteer. Dr. Wood het sedert die reddingsoperasie vir Achi gesorg en word vir sy toewyding geprys. Volgens die NSRI is Achi gesond en alle verdere stappe om sy welstand te verseker, word positief ontvang.
In samewerking met die kantoor van die minister van landbou, John Steenhuisen, word voortgaande pogings aangewend om die saak op te los en die hond se veiligheid te verseker. Die NSRI bedank die departement van landbou, min. John Steenhuisen, sy personeel, plaaslike gemeenskapslede, rdl. Jason McDowell en die media vir hul ondersteuning wat gehelp het om die hond se lewe te red. Hulle sal die publiek verder op hoogte hou namate die saak vorder.





