GAUTENG. – Die Johannesburgse metropolisiediens (JMPD) het tydens ’n verskerpte wetstoepassingsoperasie in Rosebank reeds 15 afleweringsmotorfietse gekonfiskeer. Die operasie, onder leiding van Angie Mokasie, direkteur van die JMPD, fokus op die bekamping van onwettige en onveilige afleweringsvoertuie in die stad.
Volgens ’n sosialemediaplasing deur die JMPD is een persoon in hegtenis geneem vir handel in dagga, terwyl tien ander vir oortreding van die immigrasiewet vasgetrek is. Dié aksie vorm deel van ’n groter stedelike inisiatief om padveiligheid te verbeter, munisipale verordeninge af te dwing en beide voetgangers en motoriste te beskerm.
Daar is ‘n toename in onwettige afleweringsmotorfietse, wat volgens die diens ernstige veiligheidsrisiko’s inhou, veral vir voetgangers en persone met gestremdhede. Dit dra ook by tot verkeersopeenhopings. Verkeer op paaie en sypaadjies word dikwels belemmer. Daar word onwettig parkeer en die motorfietsbestuurders maak hulleself ook aan roekelose bestuur, insluitend spoedoortredings, swenk deur verkeer en die ignoreer van verkeersligte, skuldig. Baie van die bestuurders het nie geldige rybewyse, lisensieskywe of toepaslike immigrasiedokumentasie vir kommersiële bedrywighede in Suid-Afrika nie.
Voordat die handhawing van die wetgewing deur operasies ingestel is, het die JMPD se gemeenskapsvoorligtingseenheid met bewusmakingsveldtogte by afleweringsoperateurs betrokke geraak en hulle oor wetlike nakoming en veilige bestuurspraktyke ingelig. Weens aanhoudende oortredings is strenger maatreëls egter geïmplementeer.
Huidige aksies sluit in: die verifikasie van rybewyse, inspeksie van voertuiglisensieskywe, kontrolering van paspoorte en permitte vir buitelandse bestuurders, handhawing van parkeerregulasies en optrede teen onveilige bestuur en ander verkeersoortredings.
Die JMPD doen ’n beroep op alle afleweringsmotorfietsoperateurs om binne die raamwerk van die wet te werk en hul dokumentasie op datum te hou. Maatskappye en afleweringsplatforms word verder aangemoedig om hul verantwoordelikheid na te kom en padveiligheid as ’n prioriteit te behandel.
Volgens die JMPD is die doel van die operasies nie om wettige ondernemings te ontwrig nie, maar om ’n veilige en ordelike omgewing vir alle inwoners en besoekers aan Johannesburg te bevorder.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





