OOS-KAAP. – ‘n Man (34) is Donderdag tydens ‘n skietery met die polisie in Centane, in Zwelitsha, noodlottig gewond. Hy was vir beweerde betrokkenheid by afpersing verdink.
Lt.kol. Siphokazi Mawisa sê inligting is ontvang van ‘n persoon wat glo met afpersing betrokke is deur beskermingsfooie van besighede te eis. ‘n Misdaadintelligensie-gedrewe operasie is met behulp van die nasionale intervensie-eenheid geloods.
Die verdagte en geïdentifiseerde voertuig is opgemerk toe hy uit die dorp ry. Lede het die voertuig probeer stop, waarna die verdagte glo verder weg tot stilstand gekom en uit die voertuig geklim het. Hy het ‘n vuurwapen te voorskyn gebring en op die polisielede geskiet. Polisielede het teruggeskiet en die man is noodlottig getref.
“Die polisie het tydens die ondersoek ‘n 9mm-vuurwapen met ‘n reeksnommer wat afgevyl is en ‘n koeëlvaste baadjie in die voertuig gekry, wat gekonfiskeer is.”
Mawisa sê ‘n saak van poging tot moord en ‘n geregtelike doodsondersoek is geopen.
“Die saak sal vir verdere ondersoek na die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) oorgeplaas word.”





