Brekende Nuus
Afrikaans

AfriForum sal help met eerste dagvaardiging vir uitstaande e-tolgelde

AfriForum het volledige regshulp aangebied aan die eerste motoris wat weens agterstallige e-tolgelde gedagvaar word.

Foto: AfriForum
Foto: AfriForum

GAUTENG. – AfriForum, die burgerregteorganisasie, het volle regshulp aangebied vir die eerste motoris wat weens agerstallige e-tolgeld gedagvaar word.

Sindisiswe Chikunga, minister van vervoer, het te kenne gegee die regering het nog nie oor agterstallige skuld besluit nie.

AfriForum wys ook daarop dat skuld na drie jaar verjaar en motoriste dus nie verantwoordelik gehou kan word vir skuld wat meer as drie jaar oud is nie.

Die e-tolstelsel is op 11 April om middernag afgeskakel.

“Die mislukking van die e-tolstelsel sal dien as ’n bewys van massa openbare nie-nakoming in ’n stelsel wat nie die mense dien nie. Elke keer as motoriste onder hierdie duur wit olifante deurry, sal hulle herinner word aan ’n stelsel wat sonder voordele op die publiek afgedwing is en uiteindelik verslaan is deur daardie selfde publiek wat sy voet neergesit het,” sê Charné Mostert, die veldtogbeampte van AfriForum.

Lees AfriForum se volledige verklaring hier onder:

DeurAfriForum11/04/2024

AfriForum het onderneem om volle regshulp te verleen aan die eerste motoris wat die organisasie nader indien hy gedagvaar word vir historiese agterstallige skuld wat voortspruit uit die wanbetaling van e-tolgelde. Dit volg nadat Sindisiwe Chikunga, minister van Vervoer, gister (10 April) gesê het dat die regering nog nie ’n besluit geneem het ten opsigte van veral Gautengse motoriste se historiese agterstallige skuld nie.

AfriForum het ook daarop gewys dat die regering nie alle historiese skuld teen motoriste kan hou nie aangesien skuld ná drie jaar verjaar. Niemand kan dus verantwoordelik gehou word vir skuld van meer as drie jaar gelede nie.

AfriForum se regspan het al in die verlede reeds verskeie motoriste en maatskappye wat dagvaardings van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (SANRAL) ontvang het gehelp om dié dagvaardings teen te staan en te verdedig.

Dié burgerregteorganisasie veg al teen die e-tolstelsel sedert dit die eerste keer in 2013 deur SANRAL ingestel is. Ná elf jaar sal dié stelsel uiteindelik vanaand (11 April) om middernag afgeskakel word. AfriForum het van meet af aan die openbare raadplegingproses oor e-tol deelgeneem en dit deurgaans as ’n ondeurdagte projek beskryf. AfriForum is bly om te sien dat hierdie ondeurdagte projek uiteindelik verslaan is danksy openbare druk.

Die beëindiging van e-tol is ’n groot prestasie vir die burgerlike samelewing, sowel as vir die maatskappye en motoriste wat daardeur geraak word. AfriForum het in 2012 sy petisie teen e-tol begin lank voordat die e-tolstelsel in werking gestel is. Die organisasie het sy stem dik gemaak vanaf die eerste onvoldoende openbare raadplegingproses ten spyte van wat die regering nou toegee.

AfriForum se besware was onder meer die arbeidsintensiewe aard van e-tol wat reuse-infrastruktuur en kostes vereis het om tolgeld in te vorder en betalings te verwerk, vergeleke met byvoorbeeld ’n brandstofheffing wat geen nuwe infrastruktuur vereis nie.

Volgens Charné Mostert, veldtogbeampte by AfriForum, is hierdie stelsel bedink en inwerking gestel deur ’n korrupte ANC-regering wat duisende motoriste dwing om meer geld uit gee vir iets wat hulle nie kan bekostig nie en wat hulle nie sal bevoordeel nie. “Die mislukking van die e-tolstelsel sal dien as ’n bewys van massa openbare nie-nakoming in ’n stelsel wat nie die mense dien nie. Elke keer as motoriste onder hierdie duur wit olifante deurry, sal hulle herinner word aan ’n stelsel wat sonder voordele op die publiek afgedwing is en uiteindelik verslaan is deur daardie selfde publiek wat sy voet neergesit het.”