Die gewilde Afrikaans is Groot-konsert word vanjaar by die SunBet-arena in Pretoria aangebied. Vertonings het 24 November begin en sal tot 3 Desember duur.
’n Verskeidenheid van sangers wat Bok van Blerk, Demi Lee Moore, Riaan Benade, Riana Nel, Ricus Nel, Appel, Jo Black, Karlien van Jaarsveld, Dodo Nyoka, Rohan du Toit en Corlea insluit, vorm deel van die vertoning.
Konsertgangers word gewaarsku teen kaartjies wat vanaf VIAGOGO en ander sekondêre verkopers gekoop word. Sulke kaartjies sal nie by die toegangspunte aanvaar word nie.
Laas naweek is konsertgangers aangeraai om meer informeel en koel aan te trek. Dit was te midde van ’n hittegolf wat landwyd geheers het en het as voorsorgmaatreël gedien.
Sosialemediagebruikers wat al van die vertonings bygewoon het, kan nie uitgepraat raak daaroor nie. Daar was glo ’n klompie verrassings wat dit selfs beter as die vorige jare s’n gemaak het.
Die konsertorganiseerders is nie verbaas oor die mense se lojaliteit teenoor die taal en musiek nie, want “Afrikaans is in ons harte.” Hulle belowe dat dit ’n onvergeetlike belewenis gaan wees wat nie misgeloop moet word nie.
Bronne: Sun International, Facebook





