KWAZULU-NATAL. – Ses mans en twee vroue is Vrydagaand in Umlazi, by wat vermoedelik ‘n kroeg is, dood verklaar nadat hulle geskiet is.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê dié diens, die SAPD en verskeie veiligheidsdienste is saam na die grutoneel. Paramedici het om 19:00 op die toneel aangekom wat reeds afgekordon was. ALS Paramedics en EMRS is gewys waar die lewelose liggame buite ‘n kroeg lê. Die oorledenes het verskeie skietwonde gehad en is dood verklaar.
Kol. Robert Netshiunda sê ‘n soektog na verdagtes is geloods na die polisie agt oorledenes, tussen 22 en 40 jaar oud, met verskeie skietwonde op die toneel aangetref het. Die slagoffers was in die gebou toe ‘n onbekende aantal verdagtes dit betree en lukraak begin skiet het.
Netshiunda sê die ondersoek duur voort om die moontlike motief vir die moorde vas te stel. Enigiemand met inligting word gevra om na vore te kom.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





