GAUTENG. – Afrikaans Is Groot het gepas op Nuwejaar aanhangers na die 2024-vertonings uitgenooi. Die vertonings sal vanaf 8 tot 19 November in die SunBet-arena in Pretoria plaasvind.
Die kaartjieverkope by iTickets maak op 27 Maart om 10:00 oop.
Verdere inligting sal vooraf op AIG se sosialemediaplatforms gedeel word.
Die Kaap het nie aan die kortste end getrek nie. Al die Afrikaans Is Groot-konserte vir 2023 het die afgelope naweek op Hartenbos en Stilbaai klaargemaak. Dit sluit die AiG Buitelug, GrootJol en GrootFees (Alternatief is Groot) vir 2023 in. Die Kapenaars het ten spyte van reënweer hulle sangers ondersteun en luidkeels saamgesing en gedans.
Lees die volledige aankondiging vir 2024 hier onder:
“Teen die voet van 2024 staan ons saam voor ‘n onontdekte reis, ‘n nuwe avontuur met dit ‘n wye spektrum van opwinding maar ook uitdagings, maar te midde daarvan bly ‘n paar waarhede onwrikbaar vasstaan: jou geloof, jou mense, en jou taal – die rotsvaste ankers wat ons deur hierdie avontuur gaan lei. Afrikaans is nie net ‘n taal nie, dit is jou tuiste, en Afrikaans is Groot is jou familie-reünie.
In 2024 nooi ons jou om weer huis toe te kom en deel te wees van ‘n epiese reünie, ‘n samekoms van Afrikaanse harte, met #AiG24, wat vanaf 8 tot 19 November 2024 in die SunBet-arena in Pretoria sal plaasvind. Dit is nie net ‘n konsert nie; dit is ‘n viering van ons GROOT familiebande, ons unieke kultuur, ‘n klinkende huldeblyk aan die eenheid van Afrikaanse mense.
Besprekings open op 27 Maart om 10:00, slegs by iTickets.
Maar wag, daar is meer in dié vat! Berei jouself voor vir ‘n nuwe reis van opwinding en verwondering, want ons het ‘n hele reeks verrassings en geheime wat wag om onthul te word. Die wiele gaan vanjaar rol, en ons nooi jou verder uit om hierdie opwindende rit saam met ons mee te maak. Hou ons blad dop vir die onthulling van opwindende nuus.
Hierdie jaar gaan nie net nog ‘n jaar wees nie; dit gaan ‘n epiese avontuur wees waar ons saam die pad met hoop en ywer gaan bewandel. Kom, laat ons die toekoms met opgewonde verwagting en ‘n oop hart tegemoet gaan!”

Foto: AIG – ATKV Hartenbos
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel





