OOS-KAAP. – Die polisie het op 12 en 13 Junie onder andere op 10 AK-47-aanvalsgewere beslag gelê in ‘n geamentlike intelligensiegedrewe operasie in Port St John’s. Drie verdagtes, van wie twee vroue, is ook in hegtenis geneem.
Brig. Nobuntu Gantana, polisiewoordvoerder, sê die polisie het met behulp van betroubare inligting oor onwettige vuurwapens, wat glo met taxigeweld en transitorooftogte verbind word, deursoekingslasbriewe bekom en soektogte by twee wonings in Tombo A/A en Mthumbane uitgevoer. By die eerste adres (Tombo A/A) het ’n 46-jarige vrou ’n vuurwapenlisensie vir ’n haelgeweer en 9 mm-pistool getoon, maar kon nie ’n bevoegdheidsertifikaat of geldige dokumentasie vir ammunisie verskaf nie. Haar 52-jarige manlike mede-beskuldigde is in besit van ’n onwettige haelgeweer betrap. Die polisie het op ‘n haelgeweer, ‘n 9 mm-pistool, ‘n pistoolmagasyn, 33 x 9 mm-patrone en 5 x haelgeweerdoppe beslag gelê.
By die tweede adres in Mthumbane is ’n 38-jarige vroulike verdagte aangetref met ’n houtkis wat verskeie gewere bevat het. Sy het beweer die vuurwapens behoort aan haar man. Daar is op 10 x AK-47-gewere, 19 x magasyne, 100 x 7.62-patrone, 10 x skoonmaakstelle, 4 x 9 mm-sakkies en 10 x oliekanne beslag gelê.
Al drie die verdagtes word deur aanklagte van die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie, asook oortreding van die vuuwapenwet in die gesig gestaar. Hulle sal Dinsdag 17 Junie in die Port St. John’s-landdroshof verskyn.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





