Brekende Nuus
Diere

Geen vervolging ná Al Kuwait-doodskip-saak nie

Meer as twee jaar ná die Al Kuwait-doodskip in Kaapstad se hawe aangedoen het, gaan die staat niemand oor die toestande aan boord vervolg nie. Die NSPCA sê jurisdiksionele struikelblokke staan strafregtelike stappe in die weg.

Foto: DBV
Foto: DBV

WES-KAAP. – Meer as twee jaar ná die Al Kuwait-doodskip in Kaapstad se hawe aangedoen het, het die staat besluit om niemand strafregtelik te vervolg nie. Die skip met sowat 19 000 beeste aan boord het destyds ’n ondraaglike stank oor Kaapstad laat hang en groot openbare woede oor die toestande aan boord ontlok.

Die Nasionale Raad van DBV’s (NSPCA) het bevestig dat die waarnemende Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) in die Wes-Kaap besluit het om nie met strafregtelike verrigtinge teen die skip se kaptein, die veearts wat aan boord diens gedoen het, of Livestock and Trading Company KSC voort te gaan nie.

Jurisdiksie, nie ’n gebrek aan dierelyding nie

Volgens die NSPCA hou die besluit nie verband met ’n bevinding dat geen dierelyding plaasgevind het nie, maar met praktiese en jurisdiksionele struikelblokke.

Die kaptein en veearts is nie tans in Suid-Afrika nie en die beweerde oortredings kwalifiseer nie ingevolge die Uitleweringswet as oortredings waarvoor hulle aan Suid-Afrika uitgelewer kan word nie. Die maatskappy het volgens die DOV ook geen direkteure of verteenwoordigers binne Suid-Afrikaanse jurisdiksie wat hier aanspreeklik gehou kan word nie.

Die strafsaak is in April 2024 deur die NSPCA, in samewerking met die Cape of Good Hope SPCA, geopen ná die inspeksie van die Al Kuwait in Februarie daardie jaar.

Wat in Februarie 2024 gebeur het

Nuusflits het destyds breedvoerig oor die skip berig. Die eerste berigte het gevolg nadat ’n vrot reuk oor Kaapstad versprei en die DBV bevestig het dat die Al Kuwait in die hawe was met 19 000 beeste wat van Brasilië na Irak vervoer is.

Foto’s wat later van die toestande aan boord bekend gemaak is, het gewys waarom die skip die bynaam “doodskip” gekry het. Die DBV het destyds gesê die reuk is veroorsaak deur die opbou van ontlasting en ammoniak waarin die diere tydens die seereis moes leef.

Nuusflits was ook by die protesaksie op die Taliep Petersen-brug waar diereliefhebbers teen die toestande waarin die beeste vervoer is, betoog het.

Die Al Kuwait het uiteindelik op 20 Februarie 2024 die Kaapstadse hawe verlaat en sy reis na Irak voortgesit. Die NSPCA het ná sy inspeksie gesê daar was ’n uiterste opbou van ontlasting en urine en dat diere geen ander keuse gehad het as om in hul eie afval te rus nie.

Vervolging kan later hervat word

Nou, meer as twee jaar later, sê die NSPCA hy glo die beskikbare getuienis sou kon bewys dat die diere geweldig gely het, maar dat die Suid-Afrikaanse regstelsel nie ’n buitelandse kaptein of maatskappy kan dwing om hier verantwoording te doen indien hulle nie weer die land binnekom nie.

Die saak is egter nie noodwendig finaal verby nie. Volgens die NSPCA het die DOV aangedui dat vervolging weer ingestel kan word indien die kaptein of die betrokke veearts Suid-Afrika weer binnekom.

NSPCA wil einde aan lewendehawe-uitvoer per skip sien

Die organisasie sê die uitkoms wys juis op een van die grootste probleme met die vervoer van lewende diere oor die see: aanspreeklikheid word tussen verskillende lande, buitelandse bemanningslede, maatskappye en internasionale waters verdeel.

Die NSPCA handhaaf sy standpunt dat die uitvoer van lewende diere per skip beëindig moet word en meen dit is bykans onmoontlik om dierewelsyn gedurende sulke lang seereise behoorlik te waarborg.

Lees ook

Bron: NSPCA