WAARSKUWING! Foto’s aan onderkant van die berig nie vir sensitiewe lesers nie.
WES-KAAP. – Foto’s van die sogenaamde skip van die dood, die AL Kuwait van die firma Al Mawashi, wat op 10 Februarie vanaf Brasilië vertrek het en onderweg is na Irak, is deur die Cape of Good Hope DBV Dierebeskermingsvereniging (DBV) op sosiale media gedeel.
Die skip lê tans in die Kaapstadse hawe. Sy bynaam kom van die stank wat Kaapstad binnegesypel het toe die veedraende skip in die hawe aangekom het. Die doel van die besoek aan Kaapstad is om voer vir die 19 000 diere aan boord te neem. Die ondraaglike reuk word volgens die DBV verduidelik as die opbou van ontlasting en ammoniak waarin hierdie diere moet leef terwyl hulle aan boord is.
Diereliefhebbers het rooi gesien en die plaaslike DBV het ‘n hofbevel bekom om aan boord te gaan om die toestand en omstandighede van die diere te inspekteer. Probleme is deur die DBV en die NDBV ondervind om aan boord te gaan en die polisie se hulp is ontbied. Die polisie, wat die dierebeskermingsverenigings tot laataand op die skip vergesel het, is bedank.
Die DBV verduidelik dit is nie net die ontlasting en ammoniak wat hierdie diere se reis per skip ondraaglik maak nie, maar ook seetoestande, hitte, stres, beserings, hitte-uitputting en siektes wat vinnig onder die diere kan versprei.
Hulle sê verder daar sal nie, indien nodig, gehuiwer word om vervolging in te stel nie en bevestig hulle inspeksie in die belang van die diere se welsyn sal voortduur totdat die skip môre die hawe verlaat.
Nuusflits se redakteur Jana Grobbelaar het gister soos volg berig:
‘n Vrot reuk wat al sedert Sondag in Kaapstad hang, het vandag vererger en inwoners van oraloor in die stad het op sosiale media oor die slegte reuk gekla.
Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het bevestig ‘n skip, Al Kuwait, wat tans in die Kaapse hawe vasgemeer is, is onderweg om 19 000 beeste vanaf Brasilië na Irak te vervoer.
Die DBV het in ‘n persverklaring sy teenkanting teen die vervoer van lewendige diere uitgespreek en dit ‘n “onmenslike praktyk” genoem. Dié diere word oor uitgestrekte oseane vervoer.
Dr. Bryce Marock, DBV-veearts, sê die toestande aan boord is “haglik”. Die diere is in beknopte kwartiere, het beperkte ventilasie en daar is ‘n opbou van ontlasting en ammoniak. Dit is wat die stank wat oor die stad hang, veroorsaak.
Veeartsenykundiges en inspekteurs is uitgestuur om die toestande op die skip te evalueer en te verseker dat die lyding van die diere nie ongemerk of onaangespreek bly nie.
Die DBV het ‘n beroep op beleidmakers, belanghebbendes in die bedryf en die publiek gedoen om kragte saam te snoer om te pleit vir ‘n einde aan lewende uitvoerhandel. Die DBV erken die waardigheid van elke lewende wese en sê geen dier moet onnodig ly ter wille van menslike gerief of hebsug nie.
Daar is eers beweer die reuk kom van ‘n rioollek en pompstasie-spanne het hulle fasiliteite geïnspekteer om te probeer vasstel of die reuk van een van die stasies af kom.














#LiveExport#Cattle#AnimalWelfare#AnimalRescue#Injuries#ExtremeHeat#Exhaustion#CapeSPCA#CapeTown





