‘n Vrot reuk wat al sedert Sondag in Kaapstad hang, het vandag vererger en inwoners van oraloor in die stad het op sosiale media oor die slegte reuk gekla.
Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) het bevestig ‘n skip, Al Kuwait van die firma Al Mawashi, wat tans in die Kaapse hawe vasgemeer is, is onderweg om 19 000 beeste vanaf Brasilië na Irak te vervoer.
Die DBV het in ‘n persverklaring sy teenkanting teen die vervoer van lewendige diere uitgespreek en dit ‘n “onmenslike praktyk” genoem. Dié diere word oor uitgestrekte oseane vervoer.
Dr. Bryce Marock, DBV-veearts, sê die toestande aan boord is “haglik”. Die diere is in beknopte kwartiere, het beperkte ventilasie en daar is ‘n opbou van ontlasting en ammoniak. Dit is wat die stank wat oor die stad hang, veroorsaak.
Veeartsenykundiges en inspekteurs is uitgestuur om die toestande op die skip te evalueer en te verseker dat die lyding van die diere nie ongemerk of onaangespreek bly nie.
Die DBV het ‘n beroep op beleidmakers, belanghebbendes in die bedryf en die publiek gedoen om kragte saam te snoer om te pleit vir ‘n einde aan lewende uitvoerhandel. Die DBV erken die waardigheid van elke lewende wese en sê geen dier moet onnodig ly ter wille van menslike gerief of hebsug nie.
Daar is eers beweer die reuk kom van ‘n rioollek en pompstasie-spanne het hulle fasiliteite geïnspekteer om te probeer vasstel of die reuk van een van die stasies af kom.





