NOORDWES. – Altesaam 26 bestuurders is gedurende Kersnaweek vir beweerde dronkbestuur in die Ngaka Modiri Molema- en Dr. Kenneth Kaunda-distrikte in hegtenis geneem. Nog 10 is op aanklag van poging tot beweerde omkopery van wetstoepassingsbeamptes vasgetrek.
Luidens ‘n verklaring deur die Noordwes-departement van gemeenskapsveiligheid en vervoerbestuur is die meeste van hierdie inhegtenisnemings op 20 Desember gemaak. Die departement het Saterdag verder bevestig dat noodlottige padongelukke in die provinsie met 40% afgeneem het in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar. Die afname word toegeskryf aan verhoogde patrollering en ander ingrypings wat sedert die begin van Desember ingestel is, veral saans op hoërisikoroetes. Vanaf 20 tot 24 Desember is 24 sterftes aangeteken.
In twee-derdes van die ongelukke van die 20ste tot die 26ste Desember was die vermoedelike oorsaak bestuurders wat beheer oor voertuie verloor het. Oorsake sluit ook oormatige spoed, roekelose bestuur en dronkbestuur in.
Wessels Morweng, die LUR vir dié departement, het gesê wetstoepassing sal streng bly. “Ons sal motoriste help, maar geen oortredings duld nie. Padgebruikers moet by regulasies hou en hul bestuur by pad- en weerstoestande aanpas.”





