Altesaam 28 liggame uit Gautengse damme en riviere gehaal

Lees ook :

Foto's: SAPD

GAUTENG. – Altesaam 28 liggame van drenkelinge is vanaf 1 Desember 2024 tot 19 Januarie 2025 deur die SAPD Gauteng-waterpolisie en -duikers uit damme en riviere gehaal.

Adj. off. Grant Giblin sê hierdie polisielede is gedurende Desember daagliks by Bronkhorstspruitdam, Roodeplaatdam, Vaaldam en -rivier ontplooi. Hulle bly op bystand vir enige insidente wat regoor Gauteng kan plaasvind. Hierdie lede het voertuigpatrollies en 17 waterpatrollies uitgevoer, toerusting nagegaan, wat 196 vaartuiginspeksies insluit, 193 besoeke aan oorde gemaak en honderde meters visnette of ander owettige items verwyder. Boonop is op 12 klagtes gereageer, 67 waarskuwings uitgereik en 26 onwettige merkers verwyder.

In afsonderlike insidente is 10 duikoperasies en 17 reddingsoperasies uitgevoer, waarvan ses slagoffers gered kon word en 17 liggame gevind is. Hierdie insidente was onder meer by die Vaaldam, Vaalrivier, Kliprivier, Spaarwaterdam, in Sebokeng, Orange Farm, Tembisa, Atteridgeville, Centurion, Hennopsrivier, Rietspruit, Rooikraal, Klein Jukskei in Douglasdale en Carletonville.

Met die nuwe jaar wat aangebreek het, is nog 11 liggame gevind en twee aktiewe tonele waar voertuie in Thswane en Johannesburg in water beland het, ondersoek.

Giblin lê klem daarop dat die waterpolisie gereeld saam met ander eenhede van die polisie werk, wat K9-soek-en-reddingsdienste, die lugvleuel, hommeltuigeenheid en Gauteng-nooddienste insluit en van lugsoektogte, kano’s, bote, duikers en soektogte te voet gebruik gemaak word.

Die liggame van vermoorde slagoffers, beweerde onwettige visermanne, slagoffers en voertuie wat van laagwaterbrûe gespoel is, persone wat in stormwaterdreine woon en verdrink, asook werkers wat swembaddens skoonmaak, inval en verdrink, is gevind.

Geregtelike doodsondersoeke is geopen, wat tans ondersoek word, maar Giblin versoek enigiemand met relevante inligting wat met die ondersoeke kan help, om na vore te kom.

“In die lig van hierdie onlangse en voortdurende voorvalle, vereis die inherente gevare van riviere en damme deurlopende aandag. Individue wat van voorneme is om riviere oor te steek, word versoek om dit uitsluitlik by toegewysde brûe te doen, aangesien ongelukke dikwels spruit uit slagoffers wat deur vinnige strome meegesleur word. Diegene wat betrokke is by dooprituele moet bewus wees van gepaardgaande risiko’s, met inagneming van die potensiële besoedeling van Gauteng-riviere, soos die Klip- en Jukskeiriviere, met riool en chemikalieë, wat gesondheidsgevare inhou.

“Voorsorgmaatreëls word beklemtoon om onnodige lewensverlies te voorkom. Individue wat damme, riviere of waters aandurf vir enige aktiwiteit, word aangeraai om dit slegs met ‘n reddingsbaadjie te doen. Ouers van jong kinders naby oop water moet hulle opvoed oor die gepaardgaande gevare en konstante toesig verseker.

“Getuies van waterverwante voorvalle op damme of riviere word versoek om verskeie landmerke te verskaf om liggings te bepaal vir onmiddellike soek-en-reddingspogings. Met warm weer en die reënseisoen is verhoogde bewustheid noodsaaklik om ongelukke te voorkom. Die publiek word daaraan herinner dat visvang met nette onwettig en ‘n kriminele oortreding is.”

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief