GAUTENG. – Die Namibiese dwelmmuil wat op ORTIA in hegtenis geneem is, het 68 bullets met dwelms in haar liggaam versteek gehad.
Brig. Athlenda Mathe sê nog ‘n X-straal-ondersoek het bevestig al die kapsules is uitgewerp. Die dwelms weeg ongeveer 850 gram. Die verdagte is na ‘n aanhoudingsfasiliteit geneem en sal na verwagting Woensdag op aanklagte van die handel in en besit van dwelms in die Kemptonpark-landdroshof voorkom.
“Bykomende klagtes kan waarskynlik in ‘n later stadium bygevoeg word,” het Mathe gesê.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
‘n Vrou (30), ‘n beweerde dwelmmuil van Namibië, is met geslukte “bullets” op OR Tambo Internasionale Lughawe in hegtenis geneem.
Brig. Athlenda Mathe sê die “bullets” bevat vermoedelik dwelms. Dit is die tiende dwelmmuil wat in die afgelope twee maande op ORTIA in hegtenis geneem is. Die polisie, SA Inkomstediens en immigrasiebeamtes het inligting oor ‘n beweerde dwelmmuil op ‘n vlug wat omstreeks 07:25 van São Paulo, Brasilië, sou land, opgevolg. ‘n Vrou is by die immigrasie-afdeling onderskep. Sy is na ‘n plaaslike hospitaal geneem waar ‘n X-straal vreemde voorwerpe in haar maag bevestig het.
Mathe sê daar het meer as 60 “bullets” wat vermoedelik kokaïen bevat, uit die vrou se liggaam gekom. Sy is tans onder polisiebewaking in aanhouding. Die waarde van die dwelms kon nie dadelik bepaal word nie.