‘n Amerikaanse federale hof het president Donald Trump se verhoogde tariewe geblokkeer, wat ‘n groot terugslag vir sy ekonomiese beleid is. Die hof het besluit dat die wet wat die president gebruik het om die tariewe in te stel, hom nie die mag gee om dit te doen nie – daardie mag hoort aan die kongres. Trump kry 10 dae om alle tariewe te herroep nadat dit deur die federale handelshof geblokkeer is.
Die Trump-regering het dadelik gesê hulle gaan appelleer. Die saak is deur klein besighede en ‘n groep deelstate aanhangig gemaak, wat beweer dat die tariewe hulle benadeel het.
Die hof het ook ‘n aparte stel tariewe op China, Mexiko en Kanada gestop, wat volgens die regering ingestel is om dwelms en onwettige immigrasie te bekamp. Dit geld egter nie vir tariewe op spesifieke items soos motors, staal en aluminium nie.
As die appèl nie slaag nie, sal sake-ondernemings vergoed word wat reeds die tariewe betaal het.
Sommige deelstate het die hof-uitspraak verwelkom. Markte het positief gereageer omdat dit onsekerhede oor die handelsoorlog verminder het.
Trump het die tariewe in April ingestel, maar dit het markte ontwrig.
Bron: BBC, CNN, The Gaurdian