Andrew deel hulle gesin se sleutel tot ‘n hegte band

Lees ook :

“As dit maklik was, het almal dit gedoen. Dis nie altyd maklik nie, maar dis moontlik.” Hierdie woorde is vir Andrew Helena ‘n groot motivering. Hy deel sy gesin se sleutel tot ‘n hegte band.

Andrew is ‘n kerkbestuurder by Taberna Dei-kerk en sy vrou Gerda werk al vir 32 jaar lank by Transnet as ‘n senior administratiewe beampte. Die paartjie het twee dogters. Minke, die oudste, is ‘n dieetkundige in Bloemfontein. Sy het onlangs getrou en haar man, Gidion, doen data-analiseering. Die jongste, Ankia, is ‘n derdejaarstudent aan die Bloemfontein-universiteit.

Andrew vertel hy en Gerda het ontmoet by die Taberna Dei-kerk. Gerda was deel van die musiekspan toe Andrew by die kerk aangesluit het. “Toe ek die diens die eerste keer bywoon, het sy ‘n liedjie gesing en dit het my knieë lam gemaak.” Andrew het na Gerda uitgereik en gevra vir die woorde van die liedjie en die twee het so begin gesels. Vandag is die paartjie reeds 26 jaar getroud.

Daar is waarde daaraan om tyd saam te kan deurbring

“Ons is vir seker ‘n gesin wat na aan mekaar is, ons het waarde daaraan om saam met mekaar tyd te spandeer.” Andrew vertel sy gesin doen die “saam”-ding. “Ons oefen saam, ons eet saam, ons sal saam Bybel lees, saam die Here aanbid, saam speletjies speel. Elkeen het maar sy eie dinge wat hy of sy wil doen en daar is ruimte vir dit ook.”

“Toe die kinders jonger was, het ons ‘n aand in die week ‘n familie-aand gehad. Daai aand het ons doelbewus gekommunikeer en onsself geniet. Ons het kompetisies gehou, ingekleur, speletjies gespeel. Dit het weereens bygedra tot die waarde wat ons koppel aan tyd.”

Ons het ‘n platform geskep om die dieper en ongemaklike gesprekke uit te sorteer

Andrew vertel daar is platforms geskep om gevoelens uit te praat, waar almal rustig raak en hulle dit op die beste manier moontlik hanteer het. “Die kinders moes ook leer om dieper te praat op ‘n meer volwasse vlak toe hulle jonger was en ons het hierdie platform vir hulle geskep.”

Andrew se raad aan ander gesinne wat graag ‘n hegter band met mekaar wil vorm, is om tyd saam met mekaar te spandeer, maar so ook om vir elkeen hulle eie tyd ook te gun en mekaar te ondersteun. “‘n Mens moet nederig wees. Ons het nie ‘n perfekte gesin nie, ons het natuurlik ons verskille, maar ons maak tyd vir mekaar en vir die ongemaklike goed. Waardeer mekaar en sien die mooi in mekaar.”

Andrew sê om ‘n hegte gesin bymekaar te hou, is om te sê: “Outjies, nou is dit lekker familie-tyd.” Andrew sê hy bedoel nie alles moet saam gedoen word nie, maar deur dinge saam te doen, vorm jy ‘n hegte band.

Ons sleutel tot sukses

“Ons sleutel tot sukses is vir seker die Here, ons stel Hom eerste.” Andrew vertel sy kinders is nie geleer om te doen wat hulle as ouers sê nie, maar eerder om te doen wat hulle as ouers doen. “Die beste manier wat ‘n kind leer, is om dit te sien. Die sleutel tot sukses is om ‘n voorbeeld te wees vir jou kinders.”

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief