VRYSTAAT. – Fezile Mnyobisi (35) is Vrydag met aankoms by ‘n hospitaal dood verklaar. Hy het meer as 30 steekwonde aan sy lyf gehad. Halimmah Thamando Mnyobisi, sy vrou, het hom na die hospitaal vervoer en hom daar gelos. ‘n Lasbrief is intussen vir haar arrestasie uitgereik.
Sers. Mahlomola Kareli sê ‘n Botshabelo-polisievoertuig is na die hospitaal ontbied. ‘n Voorlopige ondersoek het bevind Mnyobisi, ‘n onderwyser by Laerskool Refihlile, is naby die Gekombineerde Skool Schaba-se-maketse aangeval.
Aanvanklik is die voorval as roof en moord geregistreer, maar verdere ondersoek het daartoe gelei dat lasbriewe vir die arrestasie van verdagtes uitgereik is. Vusumuzi Daniel Nqele (43) en Moeketsi Innocent Manko (35) is op aanklagte van moord en sameswering om moord te pleeg gearresteer. Abdool Thamando (35), die oorledene se swaer, is in Johannesburg in hegtenis geneem.
Halimmah Mnyobisi word egter nog gesoek en is vermoedelik in ‘n swart Mazda CX-5 met ‘n onbekende registrasienommer aan die vlug. Enigiemand met inligting oor waar sy haar bevind word versoek om onmiddellik speurkaptein Sandile Dladla by 082 560 4727, speurder AO Lehlohonolo Tloanyane by 073 261 8753, of speurder-sersant Lebohang Nkopane by 068 098 8350 te kontak.





