OOS-KAAP. – Die OR Tambo-distriksveediefstaltaakspan het ’n verdagte (38) in hegtenis geneem nadat sewe beeste Vrydag in Qumbu gesteel is. Sedert die taakspan bykans drie weke gelede aan die werk gespring het, is vee ter waarde van miljoene rande teruggevind.
Kapt. Welile Matyolo, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die verdagte is omstreeks 13:00 gevolg terwyl hy beeste van Blackhill na Bhelekence aangejaag het. Ondersoek het aangedui dat vyf van die beeste in Mafusini gesteel is, terwyl die eienaarskap van die ander twee nog vasgestel moet word. Die diere is na die munisipale veekraal in Qumbu geneem. Die verdagte is vir besit van vermoedelik gesteelde eiendom aangekla en sal Maandag in die Qumbu-landdroshof verskyn.
Genl.maj. Norman Modishana, OR Tambo-distrikskommissaris, het die taakspan geprys. “Met die steun van inwoners en die boeregemeenskap sal die polisie die stryd teen veediefstal wen.”





