KWAZULU-NATAL. – Die beweerde besope ma (32) van ‘n babaseun (2 mnde.) is Dinsdagmiddag deur die gemeenskap ontklee en geslaan, nadat sy die kind alleen tuis gelaat het om saam met vriende te kuier.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê hulle is omstreeks 16:00 na Waterloo, uitbreiding ses, ontbied waar reaksiebeamptes ‘n groot groep lede van die gemeenskap om ‘n nakende vrou aangetref het. Hulle het haar met stokke geslaan. Daar is vasgestel die ma is Maandagmiddag saam met vriende uit. Die bure het die baba hoor huil en toegang tot die huis verkry en die kind weggeneem om vir hom te sorg. Die ma het glo Dinsdagmiddag teruggekeer en geëis dat die baba teruggegee word, waarop die gemeenskap haar bygedam het.
Rusa sê dit is blykbaar nie die eerste insident van hierdie aard nie. Die vrou het vier ander kinders tussen die ouderdom van twee en 15 jaar. Sy het na bewering aan reaksiebeamptes erken sy is ‘n onbevoegde ma en wil die baba na sy ouma en sibbe in Harding stuur, om daar te bly.
“Rusa-lede het kontak gemaak met die vrou se familie, wat nie geweet het dat sy die baba alleen gelaat het nie. Die baba is aan ‘n tannie oorhandig terwyl owerhede verder ondersoek instel.”





